VOS, CASPARUS JOHANNES ADAM (CAS)

VOS, CASPARUS JOHANNES ADAM (CAS) (1945–) is in Rustenburg gebore en word as predikant van die NG Kerk* in Pretoria opgelei. In 1971 word hy in Rie­beeckpark as predikant bevestig. Hy bedien ook Krokodilrivier en Suidoos-Pretoria. In 1984 behaal hy sy DD met lof. In 1989 word hy medeprofessor in die departement praktiese teologie by die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria. Van 2000 tot met sy aftrede in 2010 was hy dekaan van dié fakulteit. Sy belangrikste teologiese werke is Die blye tyding: Die volheid daarvan I en II, waarvoor hy die Andrew Murrayprys* ontvang het, en Theopoetry of the Psalms. In 2001 ontvang hy die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Vos is ’n gerekende Afrikaanse digter wie se gedigte meermale deur Leon de Kock in Engels vertaal is. Hy het leiding in die Gesange- en Psalmkom­missie geneem en 15 liedere vir die Liedboek van die kerk (2001) gedig waarvan “Helder skyn u lig vir die nasies” (Lied 488) en “Vaste Rots op wie ek bou” (Lied 508) baie gewild is. Hy het verskeie digbundels gepubliseer: waaronder: Vuurtong (1999), Enkeldiep (2001), Gode van papier (2003), Die afdruk van ons hande (2007), Intieme afwesige (2009), Duskant die donker/Before it darkens (2011), Weerloos lewe (2012) en Duisend dae op jou spoor (2013). Hy vertaal ook klassieke werke uit die oorspronklike tale, soos Fragmente uit die Ilias van Homeros. Johann de Lange skryf oor Vos se digwerk: “Cas Vos se gedigte word gevoed uit die antieke wêreld, die religeuse sowel as die mitologiese, maar reik terselfdertyd ook uit na die moderne. Die oorkoepelende tematiek in sy poësie is die spanning tussen wat oud is en nuut, verlede en hede, goddelik en Goddelik, die aardse en die bo-aardse, die epiese en die alledaagse. Telkens stel Vos hierdie opposisies teenoor mekaar en uit dié spanning kom die wonder van die gedig, die vonk uit die vinger van die digter wat eweneens skep en lewe gee aan die gedig. ’n Ander tema is die liefde. In al sy bundels val sy elegiese aanslag op en skryf hy ook verse waarin die vleeslike van die liefde gevier word. Hoewel hy met sy verse aansluit by ’n ryk en geskakeerde tradisie van religeuse poësie in Afrikaans*, is die religeuse net ’n faset van sy poësie sodat hy nie sonder meer ’n religeuse digter genoem kan word nie.”

Vir verdere lees: Johann de Lange 2011. “Inleiding” tot Duskant die donker/Before it darkens, Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

Sidebar