GUNKEL, HERMANN

GUNKEL, HERMANN (1862–1932) stu­deer van 1881 tot 1885 teologie* aan die Uni­ver­siteit van Göttingen. Hy was dosent en professor in Halle (1890–1894) voordat hy professor in Ou Testament* in Berlyn geword het (in 1894). Later sou hy weer in Giessen (1907–1920) en Halle (1920–1927) klasgee. In 1927 het hy weens swak gesondheid afgetree.

Gunkel was die eerste Ou-Testamentikus wat op ’n sistematiese manier gebruik gemaak het van literêre ontdekkings in die Ou Nabye Ooste, veral Mesopotamië*. Hierdie insigte speel bv ’n groot rol in sy bestudering van Gen 1 wanneer hy die Babiloniese invloed op hierdie skeppingsverhaal ondersoek.

Sy grootste bydrae lê waarskynlik op metodologiese gebied waar hy bygedra het tot die ontwikkeling van die sg vormkritiese ondersoek. Gunkel het estetie­se waardering van Bybelse* literatuur as be­langrike element in die eksegese* beskou, en het geen konflik gesien tussen kritiese ondersoek en estetiese waardering nie. Sy uitgangspunt was dat ’n mens nie die inhoud van die Hebreeuse* tekste kan be­gryp as ’n mens nie die literêre vorm daarvan herken het nie. ’n Literêre vorm (Gattung) bestaan vir hom uit ’n duidelik-gedefinieerde struktuur van taalvorms wat konstant voorkom, en wat ingebed is in ’n tipiese lewensituasie (Sitz im Leben) waarbinne die inhoud en vorm verstaan moet word. Hy het onder andere die volgende literatuurvorms in die Ou Testament geïdentifiseer: Märchen, Sage, Legende en Mythos.

Sy vormkritiese benadering het hom die vermoë gegee om ook betekenisvol by te dra tot psalmnavorsing. Sy klassifisering van die Psalms as himnes, troonsbestygings­liedere, gemeenskaplike/indiwiduele klaag­liedere, gemeenskaplike/indiwiduele dank­lie­dere ens, word tot vandag toe nog deur baie uitleggers aanvaar en gebruik.

 

Sidebar