RUTHERFORD, SAMUEL

RUTHERFORD, SAMUEL (1600–1661), behaal sy MA in Edinburgh en word dosent in Latyn. Ná sy bekering* studeer hy teologie* en in 1627 begin sy vrugbare bediening* in Anwoth. In 1636 word hy in hegtenis geneem omdat hy die koningskap van Christus* bely, teenoor die kerkregering­stelsel van Charles I. Uit die gevangenis skryf hy aangrypende briewe. In 1638 word hy vrygelaat en in 1640 word hy professor aan St Andrews. Sy diep teologiese en geestelike insigte speel ’n belangrike rol by die Sinode van Westminster (1643–1646). In Londen publiseer hy ook sy briljante werk oor die konstitusionele monargie: Lex Rex, or the Law and the Prince, a Dispute for the just prerogatives of King and People. In 1647 keer hy terug na St Andrews. Ná die bewindsaanvaarding van Charles II word sy Lex Rex verbrand, maar hy sterf voordat hy tereggestel kon word. Eers in 1690 is sy konstitusionele beginsels in Brittanje aanvaar.

Rutherford was ’n formidabele opponent, maar, soos Calvyn*, was sy pen soms te skerp. Terselfdertyd het hy, te midde van baie persoonlike lyding, ’n pastorale hart gehad. Met groot deernis kon hy twyfelaars wys op die vaste beloftes van God in Jesus* Christus*. Sy onvergelyklike Letters het hom die eretitel “the Saint of the Covenant” besorg.

Vir verdere lees: S Rutherford 1973. Letters of Samuel Rutherford. Londen: Banner of Truth Trust. Alexander Smellie 1975. Men of the Covenant. Londen: Banner of Truth Trust. ML Loane 1961. Makers of Religious Freedom in the Seventeenth Century. Henderson, Rutherford, Bunyan, Baxter. Grand Rapids: Eerdmans.

Sidebar