MINDFULNESS

MINDFULNESS’ is ‘n gonswoord wat soms vertaal word as “bewustheid” of “aandagtigheid”. Kernelemente van “mindfulness” is om volbewus in die hede teenwoordig te wees saam met ‘n ingesteldheid van deernis (“kindness”). Die term “kindfulness” word partykeer gebruik om die twee kernelemente van mindfulness te verwoord. Die praktyke van mindfulness is daarop gemik om hierdie twee elemente – teenwoordigheid en deernis – in te oefen sodat nuwe bane in die brein gevorm kan word. Dit is wat tydens meditasie* gebeur: daar word oor en oor geoefen om in die hede teenwoordig te wees terwyl die waardes van deernis, geduld, vertroue, nie-veroordeling, dankbaarheid en vrygewigheid geïntegreer word. “Een van die diepste rykdomme van mindfulness is dat die proses ons nooi om anders met die swaar en uitdagende van die lewe om te gaan. Ons oefen in meditasie om met deernis ondersoekend na die swaarkry toe te beweeg, nie weg daarvan af nie. Hierdie ondersoekende ingesteldheid teenoor depressie, woede, angs en pyn veroorsaak dat jy dit eerlik in die oë kan kyk, maar dat dit nie jou identiteit bepaal nie. Daar kom ‘n vryheid, spasie en afstand wat ons help om meer vaardig te reageer. In die Christelike konteks sien ons dat die kruis die kernmetafoor is: deur die kruis kom die opstanding en die lewe”(Immanuel van Tonder in Kerkbode, 2 Nov 2018).

Die oorspronklike stroom van mindfulness is in die Weste deur prof Jon Kabat-Zinn van Massachusett se Institute of Technology begin. Alhoewel sy oorspronklike denke deur Oosterse praktyke beïnvloed is, is later besef dat die Christelike kontemplatiewe stroom deur die eeue groot ooreenkomste met die dieper waardes van mindfulness het. Tans word mindfulness as vak by universiteite wêreldwyd aangebied. Die universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit bied ‘n intensiewe nagraadse tweejaarkursus hieroor aan.

Sidebar